Friday , August 7 2020
warmmusic.net

Afrikaanse kunstenaar bring hulde aan Janita Claassen met nuwe album!

Die Afrikaanse sopraan, Belia Lourens, se nuutste album bring hulde aan een van die land se grootste musieklegendes. BELIA SING JANITA CLAASSEN bevat ’n klassieke versameling van Janita Claassen-liedjies en bied ’n vars benadering tot bekende liedjies, wat beloof om by aanhangers van beide kunstenaars aanklank te vind.

“Ek wou hulde bring aan Janita Claassen, omdat sy ’n merkwaardige mens was wat oop en eerlik deur middel van haar musiek kon kommunikeer. Ek wou keer dat dit verlore gaan en dit laat herleef en beleef,” verklap die sangeres oor haar besluit om dié album oor sewe maande op te neem. “Ek het hierdie spesifieke snitte gekies, omdat dit vol emosie is en dit elke aspek van ons lewens raak. Dit is alledaagse liedjies oor die dinge wat saakmaak.”

Die album is ’n mengsel van gewilde en sentimentele verwerkings, wat tien van Janita se grootste treffers, twee Belia-bonussnitte en een klassieke liedjie, insluit. “Die musiek praat met jou en die liedjies is baie nostalgies. Daarom glo ek dat mense dit sal geniet en hoop ek dat dit luisteraars se harte sal raak en die boodskap vir hulle iets sal beteken.”

Alhoewel elke snit sorgvuldig uitgesoek is, het Belia wel ’n paar gunstelinge. “Ek is mal oor ‘Reëndruppels’, want ek kan visualiseer hoe mense die reën geniet en dankbaar is vir elke druppel. ‘Hardloop my Kind’ eer elke kind wat op die randjie van volwassenheid staan, ‘Oorwinter’ vir kinders is wat oorsee bly en ‘Lied vir Ma’ spesiaal vir my eie ma is.”

Om aan die album te werk, was natuurlik ook nie sonder uitdagings nie. “Dalk was die grootste uitdaging van almal, om soos Belia te klink en steeds hulde te bring aan Janita,” erken sy.

Dié sangeres met die klokhelder stem, van Porterville in die Weskaap, beskryf haarself as iemand wat eers later in haar lewe haar ware roeping ontdek het. Sy het in ’n musikale huis grootgeword, maar eers op vier-en-dertig haar musiekopleiding aan die Stellenbosch Konservatorium voltooi. Nou is sy al reeds vir twee dekades in die musiekbedryf doenig.

Oor die jare, het sy baie waardevolle lesse geleer, veral dat dit harde werk verg om jou loopbaan te laat werk. “Sing is vir my soos asemhaal. Dit is nie iets wat ek slegs vir ’n seisoen van my lewe kan doen nie. So ek kan nie toelaat dat uitdagings en struikelblokke in die musiekbedryf my van koers af bring nie. Musiek is ’n hartstaal en iemand, êrens, sal saamstem met ’n noot of twee.”

Nog ’n uitdaging, volgens Belia, is om in jou droom te bly glo. “Saans is dit net jy en jou kreatiewe gedagtes. Om jou drome waar te maak, vat blinde geloof – jy moet elke dag opstaan en bereid wees om oor te begin en vorentoe te kyk.”

Sy deel graag twee hoogtepunte in haar loopbaan, wat vir haar uitstaan: “My eerste optrede by Aardklop was vroegoggend. Die terrein was verlate; die enigste mense wat daar was, was diegene wat uitstallers besoek het. Ek het voor die rye leë stoele gestaan, terwyl die klanktegnikusse my stemtoets gedoen het. Teen die tyd wat ek my tweede liedjie gesing het, het die stoele mense geword wat my gehoor en na my kom luister het.”

“Ek moes ook gedurende die pop-era op die RSG-verhoog optree by die KKNK. Ek moes ’n ligte-klassieke verwerking van ‘Kom Dans Klaradyn’ sing en was doodbang dat die gehoor gaan opstaan en loop. Maar soos wat ek besig was om te sing, het die sitplekke vol geword. Daardie dag het ek ’n paar dinge geleer: Glo in wat jy doen en doen dit na die beste van jou vermoë; daar is plek vir alle genres in musiek; en wees net jouself – niemand kan soos iemand anders sing nie.”

Die sangeres deel gereeld haar solo-produksie, ’n Skatkis vol juwele, by vrouefunksies. Sy was ook vir vier jaar lank Manuel Escorcio se sangmaat, waartydens die duo hulle vertoning, Sy en Satyn, meer as 200 keer opgevoer het.

Haar toekomsdrome is om nie net vir plaaslike Suid-Afrikaners musiek te maak nie, maar ook vir landsgenote wat in ander lande woon. Sy sal ook nog graag in België wil optree. Verder sal dit vir haar ’n groot voorreg wees om saam met Jo Black te werk. “Dit sal nou wel ’n bietjie uit die boks wees, maar ek dink ons stemme kan saam iets baie interessant maak. Ek hou van sy uitkyk op die lewe.”

Dit wil voorkom asof daar nie einde is aan dié besonderse ster, wat reeds verskeie albums en benoemings op haar kerfstok het, se sukses is nie.

Belia sluit af: “Musiek is die som van my bestaan en ek is gehoorsaam aan God se opdrag.”

LYS VAN SNITTE
·         Rolbos
·         Hardloop my kind
·         Reëndruppels
·         Ballonne
·         Meisiekind
·         Lied vir ma
·         Wie sal weet
·         Hoor jy die klokke
·         Oorwinter
·         Wiegel Waggel
·         As die engele huil
·         In Afrika
·         Don’t cry for me Argentina

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook

Instagram: @lourensbelia
Webblad

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Dozi skiet nuwe musiek video in swembad!

Die uiters gewilde en bekende Dozi, het gedurende Mei 2020 sy eerste enkelsnit, Partykeer Somtyds, …

Mia stel ‘n aangrypende nuwe musiekvideo vry!

Mia, die talenvolle sangeres uit Potchefstroom, het onlangs haar nuwe enkelsnit, KRIMINEEL, uitgereik. Dit is …