Monday , April 6 2020
warmmusic.net

Petronel Baard se Heelal hou net aan met draai.

In die paar maande sedert die suksesvolle vrystelling van haar nuuste enkelsnit, Life is Good, het die kabaretster, Petronel Baard, nog net van krag-tot-krag gegaan. Dié liedjie, wat in Oktober verlede jaar uitgereik is, is uitstekend ontvang en het bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies gekuier, dit terwyl die musiekvideo ook reeds deur duisende mense op sosialemedia gekyk is.

Life is Good se sukses kom dan ook as geen verrassing nie, aangesien hierdie passievolle musikant – met haar strelende storievertellerstem – oor die afgelope twee dekades reeds diep spore in die musiekbedryf kom trap het.

Om verder voort te bou op die afgelope paar maande se sukses, het sy ook pas aangekondig dat sy vanjaar weer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) te sien gaan wees met haar nuutste  kabaretvertoning, Musiek van die Lang Vrou: Die Heelal Draai, wat inhoud van haar mees onlangse album, DIE HEELAL DRAAI, gaan bevat! Hierdie vertoning maak sy buiging twinting jaar na haar eerste solo-vertoning by die fees, wat destyds musiek ingesluit het van haar album, Lank Al.

Die stuk, wat deur Petronel self geskryf en deur Langvrou Produksies vervaardig is, sal nie net haar eie talent as sangeres en pianis ten toon stel nie, maar ook die van Schalk Maas (sanger, kitaar- en mondfluitjiespeler), Altan Ungerer (baskitaar- en kitaarspeler, perkussie en sanger van die groep Soetmelk) en Boesman Keyser (saksofoonspeler). Hulle vertoning sal op 27 en 28 Maart 2020 by die Windpomp Restaurantteater in Oudtshoorn plaasvind. “Ek en Soetmelk maak moeiteloos en instinktief saam musiek, wat die perfekte balans op die verhoog skep,” sê sy. Kaartjies kan op Computicket bespreek word om teleurstelling te voorkom.

Buiten hiervoor, stel Petronel ook eersdaags ’n musiekvideo vir AKKERBLARE – een van die gewildste snitte op haar album – aan die media bekend. “Die musiekvideo vir AKKERBLARE is gebaseer op ’n video deur Maritza, ’n sangeres uit Portugal, omdat DIE HEELAL DRAAI deels geïnspireer is deur die Portugese Fado-styl. Dit is egter totaal uniek en deel Suid-Afrikaanse beelde en woorde wat gebou is rondom die tema van eensaamheid. Dié projek, wat die werk van kunstenaar Wilhelm Vincent is, is in Ruiterbosch in die Weskaap verfilm. Die styl is simplisties en outentiek om die musiek te ondersteun, en die fokus op die fadista en haar instrumente te plaas.”

DIE HEELAL DRAAI, wat opgesom kan word as wêreldmusiek/ folk/ kabaret, word as tydloos beskou en bied ’n unieke en verfrissende alternatief vir die gewone style wat in Afrikaanse musiek voorkom. Die album kombineer verskeie fantastiese elemente. “Fado-musiek is ekspressief en melancholies, wat regtig aansluit by my kabaretstyl. Dit het alles begin met AKKERBLARE. ’n Vrou uit die Noordkaap het my gekontak nadat sy vir jare na my gesoek het. Ek het my interpretasie van haar boodskap getoonset, waar dit alles begin het – een liedjie het in ’n album verander,” deel sy.

SOSIALEMEDIASKAKEL
PETRONEL
Facebook
Twitter: @PetronelBaard
Instagram: @petronelbaardmusic
Webblad
YouTube
SoundCloud

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Dans Dans Lisa stel nuwe lied bekend!

Op 29 Februarie 2020 vanjaar het die akoestiese duo DANS DANS LISA ’n splinternuwe EP, …

“Ek wou elke fase van verlief-wees vasvang”, sê Valeska oor nuwe musiekvideo!

Die liefde blom behoorlik in Valeska Muller se splinternuwe musiekvideo wat reeds besig is om soos ’n …