Wednesday , July 15 2020
warmmusic.net

Casper is deel van die 10de kykNET Fiëstas

Oor minder as ‘n week is dit weer tyd vir die jaarlikse kykNET Fiëstas, waartydens die beste werke van die afgelope feesjaar vereer word. Kykers kan op Sondag 9 Februarie om 20:00 op kykNET DStv-kanaal 144 inskakel om te sien wie met die gesogte kykNET Fiëstas-toekennings wegstap. 

Vanjaar vier ons die tiende bestaansjaar van die kykNET Fiëstas. Dié geleentheid is ‘n inisiatief om die beste werk van die afgelope feesjaar te vereer. Debuutproduksies op die land se ses grootste vervaardigende Afrikaanse kunstefeeste – US Woordfees, KKNK, Suidoosterfees, Innibos, Vrystaat Kunstefees en Aardklop – kom in aanmerking vir dié gesogte pryse.

Die seremoniemeester van die 10de kykNET Fiëstas is die veelsydige akteur en komediant, Casper de Vries, wat sonder twyfel die gehoor met sy skerp humorsin gaan vermaak. Daar is ook ‘n paar verrassings wat wag op die gehoor en kykers.

Casper word bygestaan deur die gasaanbieders, Dean John Smith, June van Merch en Success Lekabe. Die gaskunstenaars sluit in van Suid-Afrika se grootste ikone – Amanda Strydom, Emma van Heyn, Germandt Geldenhuys, Ilse Klink en Nataniël. Kyk ook uit vir optredes deur die opera-sanger, Nombulelo Yende, Eet kreef! (Laudo Liebenberg, Frank Freeman, Mikhaela Kruger, Schalk van der Merwe en Sheldon Yoko), komediant Ian Young, die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes, die Cape Town Opera Chorus en die New World Dance Theatre. 

Die kykNET Fiëstas vereer ook jaarliks verskeie legendes vir hul lewenslange bydrae tot die teater-en vermaaklikheidsbedryf. Dis ‘n groot voorreg om vanjaar die volgende mense te vereer: 

  • Elize Cawood: legende vir haar bydrae tot teater, film en televisie
  • Virginia Davids: legende vir haar bydrae tot opera en musiek
  • Janice Honeyman: legende vir haar bydrae tot die kunste
  • Pieter-Dirk Uys: legende vir sy bydrae tot die kunste en Suid-Afrika

Vanjaar vind die kykNET Fiëstas by die Kunstekaap-teater in Kaapstad op Sondag 9 Februarie plaas en word regstreeks op kykNET DStv-kanaal 144 om 20:00 uitgesaai. 

Deel jou kommentaar | Share your comments here:

Persone se Kommentaar | Comments

Sien ook

Teksmark word vanjaar vir die vyfde keer aangebied

“Teksmark word vanjaar vir die vyfde keer aangebied en dit is ’n wonderlike vooruitsig in …

Kwarantyn week 1 – alles wat jy moet weet!

Dinge is bedrywig in die Kwarantyn-huise! As die families gedink het die 50 dae gaan …