10 miljoen trefslae vir Boerepompie!

Op 7 April 2020 word die treffer Hardekole (Ricus Nel ft. Refentse, Adam Tas & Bok van Blerk) aangekondig as die eerste Afrikaanste treffer wat meer as 10 Miljoen trefslae bereik het op youtube na sy vrystelling op 14 Junie 2016. Dié musiekvideo bly groei en staan reeds op 12.4 miljoen trefslae.
Dié treffer-lied het onmiddelik aanklank en gewildheid verwerf onder Suid-Afrikaners regoor die land en buite die land, of dit nou rustig in jou sitkamer was, op die langpad of om ‘n braaivuur saam met vriende en familie.
Ricus Nel het iet-wat dieselfde resep gevolg van dié treffer en op 14 Junie 2019 (presies 3 jaar na Hardekole) die treffer-lied Boerepompie vrygestel saam met Snotkop. Boerepompie het onmiddelik op almal se lippe vasgesteek en kon regoor Suid-Afrika gehoor word.
Op 2 Desember 2020 word Ricus Nel aangenaam verras toe hy gaan loer het hoeveel trefslae dié musiekvideo al ontvang het. En so waar as wragties – Boerepompie is die tweede Afrikaanse musiekvideo uit Ricus Nel se kraal wat amptelik die 10 miljoen mylpaal behaal het in trefslae op Youtube binne in ‘n korter tydperk as Hardekole; 1 Jaar en 7 Maande.
“Dit voel rerig onwerklik. Dit is vir my lekker om te weet dat die mense so baie van die musiek hou wat ‘n ou maak en ek dink dit is ook die jonger generasie wat aanklank vind by my musiek. Voor ek Hardekole uitgebring het ek meer ‘n gemiddelde ouderdomsklas aanhangers gehad en nou na Hardekole en Boerepompie is daar baie meer jonger mense wat ek sien by my vertonings. Dit is so groot voorreg om te weet dat wanneer mense kuier om ‘n vuur saam met vriende of familie en lekker braai, dat hulle my musiek selfs op Youtube gaan luister. Dit word bewys deur hierdie 10 miljoen views op Youtube en dit is ‘n groter voorreg om twee musiekvideos te hê wat meer as 10 miljoen views het, en jy kan amper sê daar is net soveel afrikaanse ondersteuners, so hulle moes die musiekvideo duisende kere gekyk. Wat ‘n groot voorreg”, vertel Ricus opgewonde!
Boerepompie is net soos Hardekole een van die mees goed-voel treffers wat jou uitlok om kliphard saam te sing, om ‘n vuur, op die langpad, saam met vriende en familie – enigeplek, en jou te laat vergeet van jou daaglikse uitdagings. Daarom word dit deur duisende aanhangers en Suid-Afrikaners bewys hoekom dié treffer so groot gunsteling is op hulle speellyste, wat hom tot by 10 miljoen trefslae gebring het!
“Boerepompie was werklik ‘n tune wat al my verwagtinge oortref het. Toe ek en Ricus hom geskryf en opgeneem het, het ek geweet hy gaan goed doen, maar nie dat hy so massief sou wees nie. Dit is genuine so cool gevoel as jy weet soveel mense geniet ‘n song en video waarvan jy deel is. Dit maak my dankbaar dat ek bietjie kon bydra aan mense daar buite se happiness en laataand-kuiers”, vertel Snotkop blyend.